Geskiedenis

Die geskiedenis van Laerskool Mariepskop word pragtig opgesom deur Dr. W.K. van der Westhuizen wat homself in sy latere jare naby die skool gevestig het. In hierdie geliefde omgewing het hy gebly tot sy dood. In die Onderwysnuusflitse van Junie 1973 skryf hy as volg: Wat het 'n skool juis hier laat ontstaan?

Mev. Langie Maré, 'n opgeleide onderwyseres, kom die eer toe dat sy 'n skool in die

ongerepte natuur van 'n afgesonderde wêreld ingedra het. Toe sy en haar eggenoot, oom Broer Maré, teen die einde van 1936 in hierdie wêreld beland het, was malaria en leeus nog 'n gevreesde bedreiging.

In 1937 het nuwe intrekkers hulle naby Bedford (Kampersrus) kom vestig. Afgesien van die gebrek aan gebaande weë, kon die naaste skool, honderd myl (160 km) hiervandaan, moeilik bereik word, en so moes Maggie de Beer 110 myl oor die berg na 'n skool op Lydenburg gestuur word. Menige keer kon sy nie huis toe kom nie, want somerreëns het riviere vir lang tye kant aan wal gehou.

In 1938 het Mev. Maré aangebied om die ongelukkige Maggie in haar huis te neem en vir haar skool te hou. Die 17de April 1939 was 'n geskiedkundige dag, want op daardie dag het Maggie de Beer haar eerste les in die plaaswoning van die Marés ontvang. Soos dit soms met skole gaan, het die getalle gegroei en in 1940 het die skool bestaan uit 5 kinders.

Daar was nogal interessante buitemuurse aktiwiteite om die skooldae af te wissel. So kon die sewe leerlinge van die private huisskool een môre gedurende 1942 aanskou hoe oom Broer twee leeus skaars 200 meter van die skool af in die stof laat byt.

Gedurende hierdie jaar het oom Broer begin bou aan 'n skooltjie, weg van die huis. Oorlogstydse beperkings het voorraadprobleme meegebring. In 1943 het die 12 leerlinge onder die leiding van hulle onderwyseres, tant Langie, 'n konsert aangebied en is die skoolfonds met R45,00 aangevul.

Nog 'n groot dag het op 11 Oktober 1945 aangebreek. Bedford se privaatskooldae was verby, want tant Langie was die trotse eerste bekleër van 'n amptelike onderwyspos. Alhoewel skoolbehoeftes voortaan gratis voorsien sou word, moes die Marégesin nog self sorg vir 'n skoolgebou en koshuis. (Alhoewel Tant Langie intussen oorlede is, was haar kinders en van haar kleinkinders ook in Laerskool Mariepskop)

Die eerste hoof word aan die begin van 1946 aangestel en met 30 kinders op die rol word die eerste inskrywings in die skooljoernaal op 15 Januarie 1946 deur die eerste skoolhoof, Mnr. Arie Vogelzang aangeteken.

Gedurende 1947 het oom Broer drie bykomende klaskamers gebou. Elke weeksdag het 50 kinders saam met die Marés aan dieselfde tafel gesit.

Die eerste permanente skoolhoof, Mnr. C. Botha, aanvaar sy pos in 1948. Sedertdien

het daar 'n geleidelike ontwikkeling plaasgevind en nadat sy opvolger, Mnr G.J.B. Kruger, die hoofpos aanvaar het, was die bestaan van 'n volwaardige skool 'n voldonge feit. (Mnr Kruger se kinders en kleinkinders was ook leerlinge van Laerskool Mariepskop). Die Onderwysdepartement het toe 30 morg grond in 1951 aangekoop.

'n Ramp sou die skool egter kort daarna tref, want 'n brand verwoes die hele koshuisgebou gedurende die nag en 104 kinders hou net hulle slaapklere oor. 'n Tentkoshuis was nou die enigste uitweg en daarin moes hulle eet en selfs skoolgaan.

'n Nuwe koshuis is hierna in 1952 voltooi en 'n skoolgebou in 1953. As gevolg van die vinnige toename in getalle is 'n moderner koshuis in 1954 opgerig. Hierdie koshuis is saam met die nuwe skool op 20 Oktober 1955 amptelik ingewy.

Mnr. M.G de Meyer, was die derde permanente hoof van die skool. Na sy dood is hy opgevolg deur Mnre Johan Coetzee, Daan Louw en Eugene Rudman. Sy seun, Renier de Meyer, was vir die afgelope 22 jaar hoof van die skool.

Na 22 jaar se uitnemende dienslewering het Renier afgetree einde 2012. Elke persoon wat paaie gekruis het met Renier sal weet watter besondere aanwins hy vir Mariepskop was. Hy het diep spore op die terrein gelos, Hy het meer “gemens” as wat die meeste mense in ‘n leeftyd mens. Lynette du Plessis word aangestel as waarnemende hoof in 2013. Sy is ‘n uiterse bekwame Afrikaanse onderwyseres, was departementshoof asook waarnemende skoolhoof by Laerskool Drakensig voordat hul 'n permanente aanstelling gekry het.

Na ‘n lang uitgerekte proses is Mnr Mark Louwies in die begin van 2014 aangestel as HOOF. Mnr Louwies is ‘n dinamiese man in alle opsigte, akademie, sport en kultuur moet volgens hom optimaal ontwikkel word.

Mnr. Louwies bedank en verruil die onderwys aan die einde van 2016 vir die privaat sektor. Mev. D. J.v. Vuren word aangestel as waarnemende hoof.