- 079 529 6071
- admin@laerskoolmariepskop.co.za
- Mare Straat, Kampersrus Hoedspruit
Hier by die #Lekkerplek boer ons kliphard met kinders. Ons is NISBOERE. Ons kweek boompies.
Ons doel is om gehalte uitvoerprodukte te produseer en ’n hoë opbrengs te lewer,
ten spyte van ’n onvoorspelbare groeiklimaat.
Ons vraag is altyd: Is dit waarmee ons nou besig is tot voordeel van ons kinders?
Ons meet alles aan ons kernbesigheid: Kinders
Suksesvolle boere volg almal dieselfde resep.
Hulle begin by die heel begin, op hulle knieë, oë opgeslaan na die berge.
Hulle stel intensionele plaasbestuurders aan, hulle bemes doeltreffend en volg ’n noukeurige
spuitprogram. Soms slaan die swartvlek toe, partykeer is daar dopluis en ander kere raak die
water effe min.
Dit werk presies dieselfde met kinders.
Ons begin dus klein, ons ontkiem, plant uit in groter sakke, plant oor in die Riepie-boord.
Daar word gesnoei en bemes, die spuitprogramme word hersien en waterkwaliteit voortdurend getoets.
Ons doel is om ons eindproduk blink te poleer, netjies te verpak en die wêreld in te stuur.
Hulle pas nie almal in dieselfde bokse nie en word nie na dieselfde mark gestuur nie, want elkeen is uniek, gevorm na God se hand.
Dit is presies wat ons wil hê.
Op hierdie plaas vergeet ons nooit dat leer ’n lewenslange proses is nie.
Ons weet as ons dit vir kinders lekker maak hou hulle dalk vir altyd daarmee aan.
Daar is 4 kernaspekte by ons klein skooltjie:
Ons weet ons maak kinders van die Here groot, ons oë is direk opgeslaan na die pragtige berge, dit is waar al ons hulp vandaan kom. Almal ken die Engel op ons skool se dak.
Ons het ondersteunende, meelewende ouers wat eienaarskap neem van die skool, sonder hulle kan ons nie vooruit boer nie.
Ons het waardegedrewe kinders. Hier is meer as 300 gelukkige kaalvoet kinders wat sorgeloos buite speel en in bome rondswaai.
Ons het ’n briljante span, intensionele plaasbestuurders wat kwaliteit onderrig aanbied, mense wat die ekstra myl loop en opreg passievol lief is vir kinders.
Ons weet as jy jou kind by hierdie skool inskryf is dit jaar 1 van 12.
Ons fokus dus op die proses en die prestasie en punt is nie vir ons belangrik nie, ons fokus op dinge wat ewigheidswaarde het.
By die #Lekkerplek plant ons meer as net boompies. Ons plant geloof, hoop en vreugde.
Kom boer saam met ons – jou oes wag!